Liggame van vyf Israeli gyselaars teruggekry
Die Israeliese weermag sê hulle het die liggame van vyf Israeli’s teruggekry wat as gyselaars na Gaza geneem is tydens Hamas se aanval op suidelike Israel op 7 Oktober verlede jaar. Die lyke van kleuterskool-onderwyseres Maya Goren asook die soldate sersant-majoor Ravid Aryeh Katz, meester-sersant Oren Goldin, stafsersant Tomer Ahimas en sersant Kiril Brodski is tydens ‘n operasie in die Khan Younis-gebied gevind. Die weermag sê hulle het vasgestel dat Goren in aanhouding vermoor is, terwyl die soldate op 7 Oktober in ‘n geveg dood is en hul liggame toe ontvoer is. Die aankondiging beteken 111 van die 251 mense wat gyselaar geneem is, word steeds in Gaza aangehou, insluitend 39 wat volgens die weermag vermoedelik dood is.