Grond-dispuut ‘kan groot energieprojekte kelder’
’n Dispuut oor toegang tot diamantryke grond rondom Lüderitz dreig om die groot energieprojekte in die omgewing te ontspoor. Reuters berig staats- en maatskappyamptenare sê die regering skerp pogings op om die dispuut op te los. Uitgerekte vertragings kan beleggers afskrik op ‘n deurslaggewende tyd vir Namibië, wat beoog om die eerste olieproduksie te versnel ná groot aflandige vondse deur TotalEnergies, Shell en Galp. Die onenigheid is oor stukke woestyngrond rondom Lüderitz en Elizabethbaai, 25km suid, wat deel vorm van ‘n mynlisensie wat deur Sperrgebiet Diamond Mining besit word en wat maatskappye benodig vir hul projekte. Benewens ‘n voorgestelde gas-tot-krag-aanleg van 800 megawatt, is Hyphen Energy se groenwaterstofprojek van 10 miljard Amerikaanse dollar en twee windplase onder dié wat moontlik geraak word namate die jaar lange dooiepunt voortduur, het amptenare gesê. Elizabethbaai is waar BW Energy beplan om ‘n pypleiding vanaf sy Kudu-gasveld aan land te laat gaan, om ‘n gas-tot-kragaanleg en vloeibare aardgas-aanleg te voorsien. Manfriedt Muundjua, ‘n senior BW Energy-amptenaar het volgens Reuters op ‘n energiekonferensie in April gesê hulle is nou al ‘n jaar lank op ‘n dooiepunt, en die saak is dringend.