Auasweg word uiteindelik verbreed
Auasweg in Windhoek sal gerehabiliteer en verbreed word van ‘n enkel- na dubbelbaan, vanaf die Sean McBride-kruising tot by die Mandume Ndemufayo-kruising. Die pad is al lank ‘n bron van kommer weens swaar verkeer en opeenhopings. Die opgradering sal ook ‘n nuwe taxistaanplek insluit. Tydens die sooispit-seremonie het adjunk-eerste minister en vervoer-minister, John Mutorwa, ‘n beroep gedoen op effektiewe samewerking om vinnig broodnodige dienste aan die publiek te lewer. Die 140 miljoen Namibiese dollar-projek sal na verwagting binne 16 maande voltooi wees. Die uitvoerende hoof van die Padfondsadministrasie, Ali Ipinge, sê die projek word ten volle deur die regering, deur middel van die administrasie befonds.