Al-Shabaab-aanvalle dood soldate in Somalië

Tientalle vegters is dood in botsings in die suidpunt van Somalië toe al-Shabaab-militante drie weermagbasisse probeer oorrompel het. ‘n Plaaslike veiligheidsamptenaar sê regeringsmagte het die aanvalle afgeweer en vier motorbomme sowat 80km van die hawestad Kismayo veilig laat ontplof. Die regering het in ‘n verklaring die federale en Jubbaland-magte bedank wat meer as 80 al-Shabaab-vegters doodgemaak en hul wapens gevat het. Die gebied naby die Keniaanse grens, in die tradisionele hartland van al-Shabaab se gebied, is drie maande gelede deur regeringsmagte ingeneem.