Regulasies vir wildsvleis-, biltonguitvoere na SA, Botswana
Dit is jagseisoen, en die direktoraat veeartsenydienste het die uitvoer-regulasies van vleis vir eie gebruik na Suid-Afrika en Botswana bevestig. Alle vleisprodukte vir eie verbruik moet slegs afkomstig wees van die bek-en-klouseer-vrye sone van Namibië. ‘n Maksimum van 25kg vleis van beeste, wild, skape, bokke of pluimvee, en ‘n maksimum van 10kg biltong per persoon mag sonder permitte uitgevoer word. Die persoon moet ouer as 18 jaar wees. Geen rou varkvleis of vleis van wilde varke, of rou vleis of biltong van perde-oorsprong, mag vir eie gebruik uitgevoer word nie. Vleis tot 205kg per uitvoerder vereis ‘n Suid-Afrikaanse veeartsenykundige permit en ‘n Namibiese veeartsenykundige gesondheidsertifikaat. Enige hoeveelhede per uitvoerder bo dit word nie as uitvoer vir eie verbruik beskou nie. Altesaam 25kg ander verwerkte vleisprodukte, soos ingemaakte vleis, gaar vleis, polonie en ander, per persoon mag sonder permitte uitgevoer word. Indien die perk van 25kg oorskry word, word ‘n Suid-Afrikaanse veeartsenykundige invoerpermit en ‘n Namibiese gesondheidsertifikaat vereis. Vleissertifisering word slegs deur die distriks-staatsveearts gedoen, nie deur grensbeamptes nie.