Lefa vervoerdiens stel eise oor ‘nie-nakoming in bedryf’

Die gewilde Windhoekse passasiers-vervoerdiens, LEFA Transportation Services, dreig om die Windhoek Stadspolisie, die Namibiese Polisiemag en die Namibiese Toerismeraad te dagvaar omdat hulle nie opgetree het teen beweerde nie-nakoming deur twee van sy mededingers in die e-taxi-diensbesigheid nie. Lefa het deur middel van ‘n brief van sy regsverteenwoordigers, Apolos Shimakeleni Prokureurs, kommer uitgespreek oor beweerde voortgesette oortredings van die Padvervoerwet deur bestuurders verbonde aan Yango en InDrive. Volgens die brief, ten spyte van verskeie vergaderings en eise van Lefa om die kwessies aan te spreek, is geen effektiewe stappe deur die owerhede geneem nie. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Melkies Ausiku, die eienaar van Lefa, wat sê hulle het hul eise in ‘n brief uiteengesit.