Slim polisiewerk van 4 vermeende veediewe

Drie NamPol-lede van die Groot Aub polisiestasie se slim polisiewerk het gelei tot die inhegtenisname van vier vermeende veediewe, almal van Rehoboth. Die karkas van ‘n Simmentaller-bul wat reeds geslag was is ook aan die eienaar terugbesorg. Die bul was 75 000 Namibiese dollar werd. Die lede het in die vroeë oggendure Woensdag die B1-pad gepatrolleer en ‘n mini-padblokkade opgestel. ‘n Wit GWM dubbelkajuit-bakkie het nie gestop nie en hulle het hom agternagesit en gestop. Die bestuurder het suspisieus opgetree en die polisie het sy selfoon gekonfiskeer waarop hulle sekere sms-boodskappe gekry het. Hulle het begin antwoord asof hulle die bestuurder is, wat hulle gelei het na die Namcor diensstasie in Otjomuise waar hulle een van die verdagtes gekry het. Hy moes glo die bakkie vergesel na plaas Neu Heusis in Khomas Hochland. Die lede het in die verdagte se voertuig daarheen gegaan, en afgekom op drie verdagtes en die reeds geslagte bul. Twee is in hegtenis geneem maar een het gevlug. Volgens die verdagtes behoort die voertuig aan ‘n afgetrede polisie-kommissaris, en die lede het twee bestuurslisensies in die voertuig gekry van die afgetredene se vrou en dogter. Die karkas van die bul is op die toneel aan die eienaar, Egbert Hoff, oorhandig. Die bakkie is gekonfiskeer asook ‘n jaggeweer sonder reeksnommer met ‘n klankdemper, ‘n byltjie, twee messe, tou en ander items.