Betogings in Bangladesj raak gewelddadig
Betogers het die hoofkwartier van die staatsuitsaaier in Bangladesj aan die brand gesteek terwyl gewelddadige botsings tussen studente en polisie voortduur. ‘n Plasing op BTV se amptelike Facebook-blad waarsku dat “baie” in die gebou in Dhaka vasgekeer is, en het ’n beroep op die brandweerdiens gedoen om die brand te blus. Studente betoog omdat ‘n derde van werksgeleenthede in die openbare sektor gereserveer word vir familielede van veterane van die land se onafhanklikheidsoorlog in 1971. Hulle eis verandering. Eerste Minister Sheikh Hasina het die vorige aand op die netwerk gevra vir kalmte ná dae van gewelddadige betogings waarin ten minste 17 mense dood is, moontlik baie meer, en honderde beseer is.