Ses dood gevind in luukse hotelsuite in Bangkok
Minstens ses mense van Viëtnamese oorsprong is dood gevind in ‘n suite in die vyfster Grand Hyatt Erawan Bangkok in Thailand se hoofstad. Plaaslike media berig dat die polisie glo die slagoffers is moontlik vergiftig is, maar dit is nie bevestig nie. Thailand se premier, Srettha Thavisin het ’n ondersoek na die sterftes gelas en sê hy wil nie hê die saak moet die land se beeld raak of ’n impak op toerisme hê nie. Die oorledenes is vermoedelik al 24 uur lank dood en nadoodse ondersoeke sal uitgevoer word.