NASA stuur vir die eerste keer ‘n hip-hop-liedjie na die diepe ruim

Die liedjie “The Rain (Supa Dupa Fly)” deur die hip-hop-kunstenaar Missy Elliott is via NASA se DSN (Deep Space Network) na Venus gestuur. Die agentskap se Jet Propulsion Laboratory in Suid-Kalifornië het die uitsending om 10:05 PDT op Vrydag, 12 Julie gestuur.

“Beide ruimte-verkenning en Missy Elliott se kuns handel daaroor om grense te verskuif,” sê Brittany Brown die direkteur van die Digitale en Tegnologie-afdeling kantoor vir kommunikasie by NASA se hoofkwartier in Washington, wat aanvanklik idees aan Missy se span gegee het om met die agentskap saam te werk.

Die liedjie het sowat 254 miljoen kilometer van die Aarde na Venus gereis, die kunstenaar se gunsteling planeet. Die radiofrekwensie-sein, wat teen die spoed van lig uitgesaai word, het byna 14 minute geneem om die planeet te bereik. Die uitsending is gemaak deur die 34m-breë Deep Space Station 13 (DSS-13) radioskottel-antenna, geleë by die DSN se Goldstone Deep Space Communications Complex, naby Barstow in Kalifornië. Toevallig het die DSS-13 ook die bynaam Venus.

“Ek kan steeds nie glo ek gaan uit hierdie wêreld saam met NASA deur die Deep Space Network wanneer ‘The Rain (Supa Dupa Fly)’ die eerste hip-hop-liedjie word wat na die ruimte gesein word nie!” het Elliott gesê. “Ek het Venus gekies omdat dit krag, skoonheid en bemagtiging simboliseer en ek voel so nederig om die geleentheid te hê om my kuns en my boodskap met die heelal te deel!”

Foto verskaf

Kyk na die musiek video hieronder