Vrou gered na 80km in seestroom

’n Vrou wat in Japan in die see gaan swem het, is gered nadat sy 80km ver deur strome meegesleur is van die strand waarop sy saam met haar vriendin was. Die Chinese burger in haar 20’s, wat ‘n rubber-swemring gedra het, was 36 uur in die water voordat sy deur ‘n vragskip suid van Tokio opgemerk is. ’n Kleiner vaartuig naby is gewaarsku en twee van sy bemanning het in die see gespring om haar te red, berig AFP. Helikopters van die Kuswag het die vrou, wat ontwater maar by haar bewussyn was, hospitaal toe geneem. Sy het gesê dat sy weens die swemring nie na die strand kon terugkeer nadat sy meegesleur is nie.