Xico Coetzee kry N$15 000 borgtog

Xico Coetzee is borgtog van 15 000 Namibiese dollar toegestaan in die Rehoboth landdroshof. Hy is saam met Martin Lotter, Bebeto Mouton, Rodrick Vries, Simon Nghinaunye, Manfred Kalf en Andries Nowaseb aangekla na 161 daggaplante op 27 Junie op plaas Kunineib gevind is. Lotter is borgtog van 10 000 dollar toegestaan en Kalf, Nghinaunye en Nowaseb borgtog van 2 000 dollar elk. Mouton het nie borg gekry nie. Landdros Elphins Maloboka het die saak uitgestel tot 17 September. Die beskuldigdes moet vanaf 4 Augustus elke tweede Sondag by die Rehoboth polisiestasie aanmeld, tussen 7-uur die oggend en 7-uur die aand. Coetzee en Lotter moet hul paspoorte by die ondersoekbeampte inhandig en mag nie die land sonder toestemming verlaat nie. Die beskuldigdes mag ook nie met die ondersoek inmeng nie. Advokaat Tjiunavio Kambako het vir die Staat opgetree en Petrie Theron van PD Theron en Vennote vir die beskuldigdes.