Ontvoerings in Ethiopië wek kommer
Minstens 100 mense, insluitend studente, is verlede week vir lospryse ontvoer in Ethiopië se onrustige streke, wat sedert die einde van die burgeroorlog in Tigray sporadiese gevegte beleef. Die Amerikaanse ambassadeur in Addis Abeba, Ervin Massinga, sê op X gereelde ontvoerings in die Oromia- en Amhara-streke wys hoe langdurige konflik misdadigers aanmoedig en die regstaat verswak. Tigray is rustig sedert ‘n vredesooreenkoms in November 2022, maar premier Abiy Ahmed se regering sukkel om sekuriteit in ander gebiede te bewerkstellig.