Soedanese faksies hou versoeningsgesprekke

Mededingende Soedanese politieke faksies het formeel versoeningsgesprekke in Kaïro bygewoon, die eerste sedert ‘n konflik in die land byna 15 maande gelede begin het. Hulle het egter erken daar is min vooruitsig om die oorlog vinnig te beëindig. Die Demokratiese Blok, wat in lyn is met die weermag, het geweier om gesamentlike sessies met die Taqaddum-faksie te hou. Die blok beskuldig die faksie dat hulle simpatiseer met die Rapid Support Forces, RSF. Nie die weermag of die RSF het die konferensie bygewoon nie. Die oorlog in Soedan het in April verlede jaar uitgebreek en byna 10 miljoen mense uit hul huise laat vlug. Daar is waarskuwings van hongersnood en golwe van etnies-gedrewe geweld wat hoofsaaklik op die RSF geblameer word.