Eerste uitslae toon weghol-oorwinning vir Britse Arbeidersparty

Peilings en die eerste uitslae voorspel ʼn weghol-oorwinning vir Keir Starmer se Arbeidersparty in Brittanje se verkiesing wat die Konserwatiewe Party se bewind van 14 jaar sal beëindig. Arbeid sal na verwagting 410 setels kry teenoor die Konserwatiewes se 131. In die vorige algemene verkiesing het die Konserwatiewes ʼn meerderheid van 365 setels gekry teenoor die Arbeiders se 203. Starmer, wat die vierde Arbeider-leier sedert die Tweede Wêreldoorlog sal wees wat die Konserwatiewes uit die kussings lig, het belowe om die veranderinge te bring wat Brittanje nodig het.