Nog twee politieke partye by Verkiesingskommissie geregistreer

Die Verkiesingskommissie het aangekondig dat hy die Action Democratic Movement en Affirmative Repositioning as politieke partye geregistreer het, nadat hulle aan al die vereistes voldoen het. Een van die vereistes is dat ‘n verklaring ter ondersteuning van die party se aansoek om registrasie deur ten minste 3 500 persone onderteken moet wees. In albei partye se geval het die kommissie besware gekry van mense wat sê hulle name verskyn op die verklarings, maar hulle het dit nie geteken nie. Die klagtes is egter na die afsnydatum vir besware ontvang. Die kommissie sê die betrokke persone moet bedrogklagtes by die polisie gaan lê en as ‘n misdryf bewys word, sal die betrokke party gederegistreer word.