Oppas vir wilde diere wat kos, water soek!

Die omgewingsministerie doen ‘n beroep op gemeenskappe in landelike gebiede om waaksaam te wees, aangesien trekdiere tydens die huidige droogte na skaars water en kos soek, wat mense in gevaar kan stel. Dit kom na die 45-jarige Albert Kawayile, ‘n personeellid van die Ngoma-bosnavorsingstasie in die Zambezi-streek, deur ‘n olifant aangeval en doodgemaak is. Kawayile was besig om werk toe te stap. Die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, sê droogte beïnvloed hulpbronne wat andersins vir diere in die natuur beskikbaar sou wees. NamPol se woordvoerder in die Zambezi-streek, inspekteur Kisco Sitali, sê ’n trop van 13 olifante het ook rondom Ngoma rondgehang totdat van die ministerie se personeel hulle uiteengejaag het.