Telekommunikasie-beleggings verdubbel byna
Beleggings in Namibië se telekommunikasiesektor het 267 miljoen Namibiese dollar bereik in die eerste kwartaal van 2024. Dit is ‘n aansienlike toename vanaf die 137 miljoen dollar wat in die vierde kwartaal van 2023 aangeteken is. Dit weerspieël die sektor se veranderlike beleggingspatrone, wat gedryf word deur spesifieke infrastruktuur en tegnologiese vereistes op enige gegewe tydstip, sê die Kommunikasie Regulerende Owerheid van Namibië, Cran, in sy kwartaallikse statistiekverslag. Daar was ‘n afname in inkomste uit data, SMS en stemoproepe, ‘n seisoenale neiging wat tipies na die vakansieseisoen waargeneem word. Data-inkomste het tot 592 miljoen dollar gedaal vanaf 598 miljoen dollar. SMS-inkomste het vanaf 36 miljoen dollar tot 34 miljoen dollar gedaal, en steminkomste het vanaf 171 miljoen dollar tot 148 miljoen dollar gedaal.