Soedan-weermag sê RSF-bevelvoerder gedood
Soedan se weermag sê hy het Ali Yagoub Gibril, ‘n senior bevelvoerder vir die paramilitêre Rapid Support Forces, RSF, wat onder Amerikaanse sanksies was, tydens ‘n geveg in die beleërde stad Al-Fashir doodgemaak. Daar was geen onmiddellike kommentaar van die RSF nie. Gibril was ‘n leidende bevelvoerder vir die RSF in al-Fashir, die laaste groot stad in die Darfoer-streek van Soedan wat die paramilitêre mag nie beheer nie. Die weermag het in ‘n verklaring gesê Yacoub is dood toe ‘n RSF-aanval vroeg Vrydag gedwarsboom is deur sy troepe en geallieerde “gesamentlike magte” wat saam met hom geveg het. Dit is ‘n verwysing na nie-Arabiese voormalige rebellegroepe van Darfoer wat in lyn is met die weermag.