Demokrasie gesond in Namibië: Afrobarometer
Volgens die jongste resultate van Afrobarometer se 10de rondte van opnames oor demokrasie in Namibië, sê 57 persent van respondente dit maak nie saak of dieselfde party altyd verkiesings wen nie, solank die regering op ‘n vrye en regverdige wyse deur die mense verkies word. ‘n Beduidende minderheid, 39 persent, meen dit is beter in ‘n demokrasie as mag soms in verkiesings van een politieke party na ‘n ander hande verwissel. Sestig persent van respondente sê demokrasie is verkieslik bo enige ander politieke stelsel van regering. Agt-en-sestig persent verwerp militêre bewind, 73 persent verwerp eenman-bewind en 80 persent verwerp eenparty-bewind. Sowat sewe uit 10 burgers beskryf die land as “‘n volle demokrasie”, ‘n daling van 11 persentasiepunte vergeleke met Afrobarometer se eerste opname in Namibië in 1999. Kosmos 94.1 Nuus het gesels met die eienaar van Survey Warehouse, Christie Keulder, oor die positiewe nuus vir demokrasie.