Swartbooi, Seibeb wen saak oor dissiplinêre stappe
Die LPM-leier, Bernadus Swartbooi, en voormalige partykollega Henny Seibeb het ’n hooggeregshof-saak gewen oor dissiplinêre stappe wat teen hulle geneem is, ná president Hage Geingob se staatsrede in April 2021. Hulle het die staatsrede ontwrig. Regter Thomas Masuku het in sy uitspraak die besluite van die Nasionale Vergadering se reëlskomitee en voorregtekomitee in April 2021 tersyde gestel. Die hof het ook ‘n besluit van die NV oor ‘n verslag van die voorregtekomitee oor die gedrag van Swartbooi en Seibeb tydens die toespraak, tersyde gestel. Die hof het verder die term “grof onbehoorlik” in die parlementêre reël wat die speaker die mag gee om ’n lid weens slegte gedrag aan die NV te onttrek, as vaag en ongrondwetlik verklaar. Masuku het verlede jaar mondelinge argumente in die saak met regters Boas Usiku en Eileen Rakow aangehoor.