Binnelandse sake weerlê aantygings teen Etienne Maritz

Die binnelandse sake-ministerie het bewerings weerlê dat sy uitvoerende direkteur, Etienne Maritz, opdrag gegee het dat permanente verblyf aan aansoekers uit Afrika vertraag moet word, want Europeërs moet voorrang kry. Die bewerings, deur ‘n anonieme persoon wat glo by die ministerie werk, is deur die aktivis Michael Amushelelo op sosiale media gedeel. Die ministerie sê in ‘n verklaring dat Maritz nie oor sulke aansoeke besluit nie, maar die immigrasie-keurraad se paneel van 13 lede. Op die laaste vergadering van die raad waar Maritz die voorsitter was op 28 Mei, is byna al die aansoeke deur blanke Suid-Afrikaners en Europeërs verwerp omdat hulle nie aan die vereistes voldoen het nie. Die ministerie sê die aantygings is ongegrond, kwaadwillig en lasterlik.