Putin herinner Weste hy kan ook wapens verskaf

Die Russiese president Vladimir Putin waarsku Moskou kan wapens aan ander lande verskaf om Westerse teikens aan te val. Dit volg na die Weste langafstandwapens aan Oekraïne verskaf het. ‘n Amerikaanse senator het bevestig Kiëf het onlangs Amerikaanse wapens gebruik om ‘n aanval op Russiese grondgebied te loods. Duitsland het ook aan Oekraïne gesê dit staan hom vry om teikens in Rusland met Duitse langafstandwapentuig aan te val. Putin waarsku die Weste is verkeerd as hy aanneem Moskou sal nooit kernwapens gebruik nie.