Google kyk op sy neus…

Google sê dat hy die gebruik van KI-gegenereerde antwoorde in sommige soekresultate afskaal, nadat die tegnologie hoëprofielfoute gemaak het, insluitend om gebruikers aan te raai om gom op hul pizza te sit en te sê dat Barack Obama ‘n Moslem is.

Google het twee weke gelede begin om die antwoorde deur kunsmatige intelligensie op soekresultate vir gebruikers in die Verenigde State te plaas, maar gebruikers en soekenjinkenners het Donderdag begin agterkom dat baie minder navrae ‘n KI-antwoord voorstel in vergelyking met vorige dae.

Foto: LinkedIn

Google se hoof van “Search”, Liz Reid, het Donderdagmiddag in ‘n aanlyn-plasing bevestig dat die maatskappy besig was om sommige van die KI-antwoorde af te skaal.

Die maatskappy het die gebruik van sosiale media-plasings as bronmateriaal vir die KI-antwoorde verminder, asook ‘n paar antwoorde oor gesondheidsverwante onderwerpe.

Die maatskappy het meer as ‘n dosyn tegniese veranderinge aangebring wat daarop gemik is om die stelsel te verbeter, het Reid gesê.