Vincent Kompany neem oor as Bayern Munich-afrigter
Sokker: Vincent Kompany is amptelik bekendgestel as die nuwe afrigter van Bayern Munich. Hy hou vol hy deel nie die sokkerwêreld se verbasing oor sy aanstelling nie. Bayern se besluit om ‘n kans te waag met die 38-jarige voormalige Manchester City-verdediger het baie mense verras. Sy eerste kennismaking met bestuur in die Premierliga het twee weke gelede uitgeloop op die relegasie van sy Burnley-span. Kompany vervang Thomas Tuchel na mislukte pogings om die Bayer Leverkusen-baas Xabi Alonso, Duitsland se afrigter Julian Nagelsmann en Ralf Rangnick van Oostenryk te lok vir een van die spel se mees gesogte posisies.