Entstof vir koedoe-hondsdolheid toon belofte, maar onbeskikbaar

Hondsdolheid het sedert die 1970’s duisende koedoes in Namibië doodgemaak, maar jare se navorsing oor metodes om die dikwels verwoestende uitbrekings te bekamp, het nou positiewe resultate opgelewer. In die mees onlangse studie wat deur Unam onderneem is, is meetbare teenliggaampies vir die eerste keer geïdentifiseer in ‘n herkouer wat mondelinge entstof teen hondsdolheid ontvang het. Die projek het egter tot stilstand gekom weens die onbeskikbaarheid van die entstof. Dr. Rainer Hassel, studieleier en dosent by die Skool vir Veeartsenykunde, is aan die voorpunt van die studie. Hassel het met Kosmos 94.1 Nuus gesels met ‘n opdatering.