Netumbo spreek kommer uit oor migrasie na stede, dorpe

Visepresident Netumbo Nandi-Ndaitwah het migrasie van landelike na stedelike gebiede uitgelig as een van Namibië se grootste uitdagings. Daar word reeds jare lank ‘n beroep op die Swapo-regering gedoen om te desentraliseer en insentiewe aan te bied vir maatskappye om in die gebiede bedrywighede daar te stel maar, tot op hede, is Windhoek, die kusgebied en die Ondangwa-Oshakati gebied die regering se fokus. Plakkerskampe en dienslewering, sowel as besoedeling is ‘n reuse-uitdaging vir plaaslike owerhede, en so ook werkloosheid. Nandi-Ndaitwah sê nou pogings moet fokus op die identifisering van die vaardighede wat nodig is in landelike gebiede en om jongmense met hierdie vaardighede toe te rus. Die visepresident het die belangrikheid daarvan beklemtoon om landelike gebiede in produksiesentrums te transformeer, met stedelike gebiede wat as verwerkingsentrums dien.