Amushelelo hofsaak van die rol geskrap

‘n Saak waarin drie Stad Windhoek kontrak-skoonmakers en aktivis Michael Amushelelo aangekla is vir die aanhitsing van openbare geweld, is van die hofrol geskrap. Amushelelo en die skoonmakers is in Februarie verlede jaar gearresteer tydens ‘n onwettige staking van skoonmakers by Stad Windhoek. Hulle het in die hoofstad amok gemaak, asdromme omgegooi en rommel gestrooi. Die saak was vir verhoor geskeduleer, maar ‘n besluit van die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, was steeds hangende, ten spyte van ‘n finale hofbevel dat dit beskikbaar gestel moet word. Staatsaanklaer Amize Adams het ook die hof ingelig dat die dossier nie voor die hof is nie. Amushelelo se prokureur, Kadhila Amoomo, het gesê dis die tweede keer dat dit gebeur. Landdros Likando Mutafela het die saak van die rol geskrap en beveel dat die aangeklaagdes se borg aan hulle terugbetaal moet word.