Olie-eksplorasie in Sentrale Owambo-kom kry hupstoot

Polaris, wat in Kanada gebaseer is, het ‘n kontrak gekry om vanjaar ‘n belangrike seismiese opname in die Sentrale Owambo-kom in noord-oos Namibië uit te voer. Polaris is deur die Australië-genoteerde 88 Energy gekontrakteer om ongeveer 200km se 2D-data oor PEL 93 te bekom. Dit is ter voorbereiding van ‘n potensiële multi-put oliesoek-veldtog. Die maatskappy was onlangs by ‘n paar groot seismiese operasies in Zimbabwe en Namibië betrokke. 88 Energy betaal vir die opname as deel van ‘n ooreenkoms met Monitor Exploration om ‘n aanvanklike 20 persent-belang in die lisensie te verdien. Die belang kan tot 45 persent styg, afhangende van sekere voorwaardes wat nagekom moet word.