Harambe-Oyetu-gemeenskapstuin kyk ook na vis, hoenders

Visepresident Netumbo Nandi-Ndaitwah het ‘n 20-hektaar gewasse- en groente-gemeenskapstuin in Outjo ingewy, wat na verwagting ‘n sleutelspeler in die Kunene-streek se landbousektor sal wees. Die Harambe-Oyetu-gemeenskapstuin sal ingevolge die Groenskemabeleid op ‘n kommersiële grondslag bedryf word. Ndaitwah sê die regering staan vas agter sulke inisiatiewe en erken hul deurslaggewende rol in voedselsekerheid en werkskepping deur landbou. Die Nasionale Jeugraad sal die projek bedryf met tegniese ondersteuning van die landbou-ministerie. Kunene goewerneur Marius Sheya sê soortgelyke projekte sal in al die kiesafdelings op die been gebring word, met planne om die Harambe-Oyetu-projek uit te brei om vis- en hoenderboerdery in te sluit.