Ministerie tevrede met werk aan Katutura-hospitaal

Die werke-ministerie is tevrede met die vordering van opknappingswerk by die Katutura Intermediêre Hospitaal. Esther Kaapanda, uitvoerende direkteur, het die hospitaal besoek om die vordering te bepaal. Katutura Staatshospitaal is in 1973 gebou, en het oor die jare vervalle begin word. Daar was onder meer gate in die dak, beskadigde mure, vensters en vloere, verstopte toilette en ‘n knaagdier-plaag. Dit is teen hierdie agtergrond dat die regering 40 miljoen Namibiese dollar vir die hospitaal se opknapping bewillig het. Kaapanda sê die doel van die hospitaal se transformasie is om gesondheidsorgdienste vir die gemeenskap te verbeter en die waardigheid van pasiënte wat daar behandeling ontvang, te herstel. Sy sê die opknappings sal na verwagting teen Junie vanjaar voltooi wees.