Seekoei weer tuis na uitstappie in Kaapstad
‘n Seekoei koei is terug in Kaapstad se Rondevlei-natuurreservaat na ‘n vroeë-oggend uitstappie in Grassy Park. ‘n Minibus-taxi-bestuurder, Arnold Brown, kon nie sy oë glo toe hy op die dier in die buurt afgekom het nie en het alarm gemaak. ‘n Woordvoerder van die Kaap die Goeie Hoop DBV, Belinda Abraham, sê die seekoei het deur ‘n grensdraad ontsnap wat nou tydelik herstel is. Dit het slegs ‘n paar uur geneem om die seekoei terug na haar tuiste te begelei, sonder enige weerstand of drama.