EU en IPC se middagete… Swapo is geregverdig in sy reaksie

Die stof wil steeds nie gaan lê nie oor die nuus dat die minister van internasionale betrekkinge, Peya Mushelenga, die spesiale gesante van die EU en Duitsland ontbied het na hulle met die IPC-leier Panduleni Itula vergader het. Die party se vise-president Netumbo Nandi-Ndaitwah het ook die besoek veroordeel. Itula, vergesel van die party se vise-president Trevino Forbes, was genooi om Dinsdag ‘n middagete by te woon wat deur die Duitse ambassadeur, dr. Thorsten Hutter, by sy woning in Klein Windhoek aangebied is. Reaksie is ontvang van die Namibiese politieke kommentator dr. Henning Melber, ‘n navorsingsdirekteur by die Scandinavian Nordic Africa Institute, wat sê dit kan interessant wees om uit te vind hoekom die IPC oor die middagete gespog het.

Hiermee saam het vise-president Netumbo Nandi-Ndaitwah ook opposisiepartye en sekere ambassade-verteenwoordigers gekritiseer vir wat sy as “hoogs twyfelagtige” gedrag beskou. Sy het gesê dit kan moontlik beide die vreedsame verloop van verkiesings en die algehele vrede binne die land in gevaar stel. Die vise-president het die opmerkings gemaak by die amptelike opening van Swapo se Sentrale Komitee vergadering. Dr. Melber sê dit behoort geen verrassing te wees dat Swapo so gereageer het nie.