Vroulike studente wat dans dalk vervolg
’n Groep Iranse studente is met vervolging gedreig nadat ’n video van hulle wat dans ná hul gradeplegtigheid op sosiale media verskyn het. In die nou virale video is ‘n groep van ongeveer 11 vroulike studente van die Al-Zahra-universiteit in die kusstad Bushehr, te sien waar hulle dans en op ‘n motorfiets ry. Die universiteit se president, Zahra Hajiani, het aan die Iranse Studente-nuusagentskap gesê die video is gemaak “sonder koördinering en toestemming van die universiteit” en is ‘n “onwettige aktiwiteit”. Sy het gesê die universiteit sal regstappe teen die studente volg. Menseregteprokureurs het gesê dat die universiteit waarskynlik die regsbedreiging gemaak het onder druk van owerhede in Iran.