Gewapende rowers buit N$234 137 op Walvis
Die Erongo-polisie sê ‘n werknemer by die New Day and Night-kroeg in Kuisebmond is van kontant van net meer as 234 000 Namibiese dollar beroof. Volgens die mag het die 31-jarige vrou die kontant voorberei om dit by die bank in te betaal en is net buite die perseel, op pad bank toe, deur twee gewapende mans aangerand en beroof. Die verdagtes het weggekom in ‘n sewe-sitplek Honda met vervalste nommerplate. Die mag sê die ondersoek duur voort en vra die hulp van die publiek in die verband.