Nasionale kampioenskappe sluit swemseisoen af

Die Namibiese swemseisoen bereik hierdie naweek sy hoogtepunt by die Bank Windhoek Nasfed Namibiese Nasionale Langbaan-swemkampioenskappe in die Olympia munisipale swembad in Windhoek. Opwindende kompetisies kan verwag word by die gala wat reeds aan die gang is en tot Sondag voortduur. By die onlangse Afrika-spele in Accra, Ghana, is die helfte van Namibië se 10 medaljes deur swemmers gewen. Altesaam 170 swemmers van klubs regoor die land sal in aksie wees. Dolphins Swemklub is weer die gunstelinge om die klubtitel te wen, alhoewel Aqua Swimming and Fitness Academy vir strawwe kompetisie kan sorg. Die aksie begin om 8-uur Saterdagoggend en om half-nege op Sondag.