Bankbedrog duur voort, publike weer gewaarsku

Toenemende gevalle van bankbedrog wek kommer en mense val steeds daarvoor soos swendelaars slimmer raak. Daar is verlede jaar 357 gevalle van bedrog in Namibië aangemeld, amper een daagliks, en verliese in die verband beloop 26,3 miljoen Namibiese dollar. Die slenters word al hoe meer gesofistikeerd en meer wydverspreid. Bedrieërs sal buitengewone moeite doen om jou te laat glo dat hulle eg is, en maak dikwels staat op manipulasietaktieke om jou te oortuig om jou bankinligting aan hulle te gee. Ingrid Katjiukua, forensiese bestuurder van FNB Namibië, herhaal weer dat geen sensitiewe inligting bekend gemaak moet word nie.