US$30m gebuit in professionele roof

Federale owerhede en die Los Angeles-polisiedepartement ondersoek een van die grootste kontantrooftogte in die stad se geskiedenis nadat soveel as 30 miljoen Amerikaanse dollar uit ‘n geldbergingsfasiliteit in die stad gesteel is. Die inbraak het die nag van Paassondag plaasgevind. Inbrekers het toegang tot die gebou verkry en die kluis binnegegaan sonder om die alarms af te stel en ondersoekers glo dit is ‘n gesofistikeerde groep op grond van hul vermoë om opsporing te ontduik. Een fokusarea vir die ondersoek is of die groep bystand gehad het. Die roof is groter as die van 12 September 1997 toe 18,9 miljoen dollar gesteel is. Dié verdagtes is uiteindelik, na ‘n jaar, gevang.