VN berispe DRK oor sy tronke

‘n Totaal van 104 gevangenes is tot dusver vanjaar dood in die Demokratiese Republiek van die Kongo se onderbefondsde en chronies-oorvol tronke, sê die VN se gesamentlike menseregtekantoor. Die hoofoorsaak van die sterftes was aansteeklike siektes soos tuberkulose, wat maklik in oorvol fasiliteite versprei en mediese aandag vereis, wat nie beskikbaar is nie. Onvoldoende kos het ook bygedra. Die DR Kongo se menseregte-minister, Albert Puela, sê die regering is bewus van die kwessie, en dat pogings aangewend word om toestande te verbeter. Hulle wil ook gevangenes in voorverhoor-aanhouding vrylaat, wat dikwels wetlike perke oorskry weens geregtelike agterstande.