Vrou, 80, sterf toe olifant voertuig omkeer

‘n Tagtigjarige Amerikaanse vrou is weens ‘n aggressiewe olifant dood nadat die dier tydens ‘n safaririt in Zambië ‘n voertuig bestorm het. Die aanval het Saterdag by die Kafue Nasionale Park in die weste van die land plaasgevind. Die onbekende vrou het aan haar beserings beswyk en haar oorskot sal eersdaags na die VSA gerepatrieer word. Vier ander gaste het ligte beserings opgedoen en ontvang traumaberading, met nog ‘n vrou wat in ‘n Suid-Afrikaanse hospitaal is vir behandeling.