Futsal-afrigter mik na wêreldbeker

Namibië se nasionale futsal-afrigter, Ryan Jago, sê die span mik daarna om in die top-drie by die Afrikabeker-futsalkampioenskappe in Rabat, Marokko te eindig. Die top drie nasies by Afcon sal kwalifiseer vir die Futsal Wêreldbeker wat in September vanjaar in Oesbekistan plaasvind. Die span vertrek Vrydag na Marokko en arriveer die volgende dag in Rabat, terwyl die toernooi op 11 April afskop. Namibië is in Groep B saam met Egipte, Libië en Mauritanië, terwyl Groep A uit Marokko, Angola, Ghana en Zambië bestaan. Die Namibiërs sal ook twee opwarm-wedstryde teen professionale Marokkaanse spanne speel.