Stropers roei onder ons renosters

Agt-en-twintig renosters is sedert die begin van die jaar in Namibië gestroop vir hul horings. Dit is volgens die omgewingsake-ministerie, wat besig is met ondersoeke om te bevestig dat sewe renosters, insluitend twee swartrenosters, sedert Dinsdag op drie verskillende plekke gestroop is. Romeo Muyunda, die ministerie se woordvoerder, kon bevestig dat vier witrenosters in die laaste week naby Otjiwarongo gestroop is. Hy sê geen arrestasies is in die onlangse sake gemaak nie, maar ondersoeke duur voort.