Agtjarige oorlewende van Limpopo-busongeluk herstel goed
Die agtjarige meisie van Botswana, Lorraine Atlang Siako, die enigste oorlewende van die noodlottige busongeluk op die R518 in Limpopo, herstel goed in die Mokopane-hospitaal. Sy is na die ongeluk Donderdag, waarin 45 mense dood is, per helikopter na die hospitaal geneem. Die bus was op pad van Gaborone na Moria vir die jaarlikse pelgrimstog oor die Paasnaweek, toe die bus deur die reling van ʼn brug gestort en 50 meter onder die brug in vlamme uitgebars het. Volgens die woordvoerder van die provinsiale LUR vir Gesondheid, Thilivhali Muavha, begin die departement môre met lykskouings om die slagoffers te identifiseer.