Baltimore: Twee van ses dooies gevind

Reddingswerkers soek steeds na die oorskot van vier van die ses konstruksiewerkers wat Dinsdag in die ineenstorting van die Baltimore-brug in die water geval en verdwyn het. Twee is gevind, in hulle motor, in die water. ‘n Snelwegspan sal ook na die oorblyfsels van die Francis Scott Key-brug kyk terwyl hulle probeer vasstel hoe en hoekom ‘n houerskip in ‘n pilaar van die 2,6km-lange brug vasgevaar het. Amerikaanse federale veiligheidsondersoekers het reeds die vragskip se swart boks gekry. Die ramp het die hawe van Baltimore, een van die besigste aan die Amerikaanse ooskus, gedwing om onbepaald te sluit en ‘n verkeersprobleem vir Baltimore en die omliggende streek geskep.