Vyfde moord op LGBTQI+ Namibiërs sedert Ekandjo se wette

Equal Rights Nambia sê hulle het berigte ontvang van nog ‘n moord op ‘n LGBTQI+-gemeenskapslid in Tsumeb die naweek. Dit bring die totale moorde op LGBTQI+ Namibiërs op 5 te staan sedert die Nasionale Vergadering verlede jaar in September, die private lid wetsontwerpe aanvaar het wat deur Swapo-wetgewer Jerry Ekandjo ingedien is. Die wetsontwerpe is om die term “eggenoot” te definieer en die Huwelikswet van 1961 te wysig om die erkenning van dieselfde-seks huwelike in Namibië te keer. Die wetsontwerpe poog verder om selfdegeslag-huwelike en die voltrek van sulke huwelike te verbied, en om die amptelike erkenning van selfdegeslag-huwelike in Namibië te blokkeer. Die wetsontwerpe is reeds deur die Nasionale Raad met minimale wysigings goedgekeur en is oorweldigend deur beide kante van die huis ondersteun. Lede van die gemeenskap is gewaarsku om hul veiligheid te prioritiseer en versigtig te wees wanneer hulle “dating-apps” gebruik om iemand te ontmoet. Kosmos 94.1 Nuus het met die sosiale aktivis Linda Baumann gepraat, wat sê aanvalle op die LGBTQI+- gemeenskap neem toe.