Markus Jooste het glo selfmoord gedreig

Terwyl die Steinhoffryk om hom ingeplof het, het  Markus Jooste al ses jaar gelede gedreig om sy eie lewe te neem. So het die sakemagnaat Christo Wiese in gesprek met Rapport reeds voor Jooste se selfmoord in Hermanus onthul. Die dreigement dat Jooste sy eie lewe sou neem is deur sy prokureur aan Wiese oorgedra kort na die Steinhoff-bom gebars het. Wiese,  wat meer as 60 miljard rand verloor het toe die maatskappy ineengestort het,  het aan die koerant vertel hy dink dis onvanpas om so gou na iemand se afsterwe kommentaar te lewer. Maar hy het die media verwys na ‘n vraag- en antwoord -sessie wat hy verlede week met die webwerf Biznews gehad het. Daar het hy kaalvuis gepraat.