Vier vasgetrek na Brahman-bul gesteel en geslag is

Nog ‘n boer het ‘n groot verlies gely as gevolg van veediefstal. Tussen verlede Vrydag en Maandag is ‘n Brahman-bul ter waarde van 26 000 Nambiese dollar uit weiveld by Rooibank in die Walvisbaai-distrik gesteel. Die bul is geslag en die diewe het al die vleis opgesny en verwyder, en net die ingewande agtergelaat. Die polisie het vier verdagtes tussen die ouderdomme van 19 en 23 gearresteer nadat al die vleis by hulle gevind is. Die polisie rig ‘n dringende versoek dat mense nie veediefstal-sake moet terugtrek nie. Dit mors die polisie se hulpbronne, en spoor die boosdoeners aan om meer te steel. Die polisie pleit by die gemeenskap om voorvalle van veediefstal aan te meld sodra hulle enige inligting het. Boere word aangeraai om hul vee binne 6 maande na geboorte te brandmerk vir identifikasiedoeleindes.