Taxi-operateurs betoog in Otjiwarongo
Meer as 300 taxi-operateurs in Otjiwarongo het ‘n vreedsame betoging teen die munisipaliteit se beweerde swak dienste gehou, veral oor instandhouding van paaie en ‘n gebrek aan aangewese taxi-staanplekke. Die groep het van die Orwetoveni-woongebied na die munisipaliteit se kantoorkompleks opgeruk waar hulle ‘n petisie aan burgemeester Gottlieb Shivute oorhandig het. Hulle het die munisipaliteit tot 17 April gegee om op hul bekommernisse te reageer. Die taxibestuurders het in hul petisie kommer uitgespreek oor die slaggate in byna elke straat rondom die dorp op beide teer- en grondpaaie. Hulle het geëis dat plaaslike owerheidsraadslede hul plig om die gemeenskap te dien ernstig opneem, veral met betrekking tot padinstandhouding. Hulle wou ook weet hoe die 350 Namibiese dollar wat hulle jaarliks vir taxi-nommers betaal, aangewend word om die dorp te verbeter.