Damme sak, Hardap net 12,2% vol

Die land se damme het nou al vir amper vier weke geen invloei gehad nie. Die sentrale gebied, wat Windhoek insluit, se damme het tans net 19,6 persent water. Die Swakoppoortdam is 39 persent vol en die Von Bach net 11 persent. Die Omatako is steeds so te sê leeg, met 0,7 persent water. By Hardap lyk dinge glad nie goed nie. Die dam is net 12,2 persent vol, nadat die groenskema die afgelope week net onder 2 miljoen kubieke meter water onttrek het. Die Nautedam het 39,8 persent water en die Oanob by Rehoboth 42,7 persent. Die Ooste se damme staan op ‘n skamele 3,6 persent vol, met die Otjivero wat 4,6 persent water het. Die Tilda Viljoen is 5,1 persent vol en die Daan Viljoen 5,5 persent. In die Noorde het die Olushandadam 37,4 persent water.