Nigeriese bandiete eis N$11,5m vir ontvoerdes
Gewapende mans wat verlede week 286 studente en personeel van ‘n skool in die noorde van Nigerië ontvoer het, het ‘n totaal van 1 miljard naira, of sowat 11,5 miljoen Namibiese dollar, vir hul vrylating geëis. Die skoolkinders, ‘n paar ouer studente en lede van die skoolpersoneel is op 7 Maart in die dorp Kuriga ontvoer. Jubril Aminu, ‘n gemeenskapsleier wat as woordvoerder vir die gyselaars se families optree, sê hy het Dinsdag ‘n oproep van die ontvoerders ontvang. Hy sê hulle het ‘n ultimatum gestel om die losprys binne 20 dae te betaal, effektief vanaf die datum van die ontvoering. Hulle het gesê hulle sal al die studente en die personeel doodmaak as die losprys-eis nie nagekom word nie.